Die beleërde Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) staan straks op die punt om ’n groot eiendomstransaksie met die Stellenbosse maatskappy Staytus Cape te beklink.
Ofskoon dit nie aangekondig is nie, het Netwerk24 dokumente gesien wat wys dat daar Donderdagaand ’n aanlyn vergadering van die WPRU se hoofraad daaroor is. Dit sluit die klubs – die kollektiewe eienaars van die Nuweland-stadion – in. Dit sal uiteindelik in hul hande wees om die transaksie te bekragtig, al dan nie.
Die bepalings van die voorgenome ooreenkoms sal op die vergadering bekend gemaak word, terwyl Staytus en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n voorlegging gaan doen. Met al die inligting tot hul beskikking sal klubamptenare dan glo Saterdag persoonlik – waarskynlik by Nuweland – hul stemme uitbring.