Die gesegde lui dat jy niemand kan dwing om jou respek te betoon nie, maar jy kan weier dat iemand jou sonder respek behandel. Die Hoërskool Waterkloof het Saterdag in sy eie agterplaas dié les op die harde manier geleer teen die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies).
Affies se Wit Bulle was aan die brand en het die tuisspan met 60-15 slae gegee. Dít nadat ’n video Donderdag in skoolkringe versprei is waarin een van die spelers van die Klofies se eerste rugbyspan ’n Affies-rugbytrui aan die brand gesteek het in die aanloop tot dié twee se jaarlikse interskolekragmeting. Ofskoon die betrokke speler daarna aan die span onttrek is, het die besoekers ’n wrok gehou en geen genade betoon op ’n dag wat eindelik in 'n goeie gees gespeel is nie.
Die Klofies het al 14 wedstryde verloor, met Affies wat skoonskip gemaak het en 610 punte in totaal ingeryg het teenoor die tuisspan se 49.