Die Noordvaal-kompetisie het Saterdag op omstrede wyse afgeskop met veral die kragmeting tussen die verdedigende kampioen, die Hoërskool Menlopark, en Helpmekaar Kollege van Johannesburg wat vir al die verkeerde redes onthou sal word.
Nico Luus, wat die Universiteit van Pretoria (Tuks) onlangs tot Varsitybeker-glorie help voer het en die afgelope week as Menlopark se nuwe direkteur van rugby aangestel is, moes ’n gedeelte van die wedstryd uit die hoofpaviljoen dophou nadat die skeidsregter, Niel Bosman, hom die trekpas gegee het.
Dié voorval het voor die afrigtershokkie gebeur toe ’n vryskop teen Parkies toegeken is by ’n lynstaan en Luus sy ontevredenheid met dié beslissing duidelik gemaak het. Spel is vir sowat vyf minute gestaak en het eers weer voortgegaan nadat Luus sy sitplek tussen die toeskouers ingeneem het.