In uitdagende tye het die Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan die mas opgekom en is ná ’n onoorwonne veldtog as die kampioen van die Northerns se Platinum A1-liga gekroon.
Die Klofies het die Hoërskool Garsfontein, Pretoria Boys High, die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), Prestige College van Hammanskraal en die Hoërskool Menlopark gekasty, voordat hy die Hoërskool Centurion boonop in die eindstryd laat les opsê het.
Chritsiaan du Toit het die seisoen afgesluit met 232 lopies, wat ’n honderdtal (133) teen die Parkies insluit, met Hardus Coetzer wat self skade met die kolf aangerig het en met 217 lopies agter sy naam gepronk het. Dit het ’n honderdtal (108) in die eindstryd ingesluit.