Die Hoërskool Outeniqua van George en die Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal het die hele 23-tal van die Suidwestelike Distrikte se span vir o.18-Cravenweek gelewer, terwyl die Hoër Tegniese Skool Drostdy van Worcester die grootste verteenwoordiging in die span van die Boland het.
Die Kwaggas van Outeniqua het ’n bydrae van nie minder nie as 14 spelers gelewer in die SWD-span wat by die Rondebosch Boys’ High School sal uitdraf volgende maand, terwyl die oorblywende nege plekke almal deur spelers van Oakdale se Bulle beklee word.
’n Groot stryd wag in die eerste ronde van Cravenweek-wedstryde wanneer die SWD die Vrystaat pak op die tweede dag van die toernooi.