Die Westelike Provinsie het ’n derde agtereenvolgende keer sy visier op die nieamptelike-eindstryd van die o.18-Cravenweek-toernooi met ’n gedugte span wat moeilik geklop sal word.
In wat as ietwat van ’n verrassing beskou kan word, is dit die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) wat met sewe spelers die grootste aandeel in die Streeptruie se A-span het, terwyl hul bure Paarl Gimnasium vyf spelers bydra vir die toernooi wat vroeg volgende maand by Rondebosch Boys’ High in Kaapstad gehou word.
Dit is die eerste keer sedert 2019 dat die o.18-Cravenweek weer plaasvind nadat die Covid-19-pandemie dit in 2020 en 2021 gekelder het. Dit is ook die eerste keer sedert 1967 dat die Moederstad as die gasheer optree.