Fulham het die eerste Engelse beroepsokkerspan in 88 jaar geword wat ses of meer doele in drie agtereenvolgende wedstryde aanteken.
Dié span is tans die voorloper in Engeland se Eerste Liga (die liga benede die Premierliga). Hy het Birmingham Dinsdagaand met 6-2 verslaan. Dít volg op oorwinnings oor Bristol City (6-2) en Reading (7-0) in sy vorige twee kragmetings.
Die laaste Engelse klub wat dié prestasie kon behaal, was Chester City in die 1933-’34-seisoen.