Die grootste kragmeting in Suid-Amerikaanse klubsokker, die eindstryd om die Copa Libertadores, is weens onluste in die Chileense hoofstad, Santiago, na Lima in Peru geskuif.
Dié eindstryd tussen Flamengo (Brasilië) en River Plate (Argentinië) sou op 23 November in die nasionale stadion in Santiago plaasgevind het, maar toenemende protesoptrede en geweldpleging in dié stad het die Suid-Amerikaanse Sokkerkonfederasie (Conmebol) gedwing om inderhaas alternatiewe planne op te trek.
Protesoptrede teen ’n toename in openbare vervoerkoste in Santiago ’n paar weke terug, het ontaard in massaoptogte teen ongelykheid in dié land en ná vyf uur lange beraadslagings tussen verteenwoordigers van albei spanne, die Argentynse en Brasiliaanse sokkerverenigings, asook Conmebol, is daar besluit om die eindstryd na die Peruviaanse hoofstad te skuif.