Hulle sal moet aanhou om goed te verdedig en na hul sterkpunte speel.
So sê Garreth Ewing, afrigter van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan, wat Saterdag teen Indië die eerste keer in 20 jaar weer in die halfeindstryd van ’n Statebondspele gaan speel. Die vorige keer in 2002 was die Spele in Manchester in Engeland.
Die Suid-Afrikaners het hul halfeindplek te danke aan ’n uitstekende sege in hulle “kwarteindstryd” teen Nieu-Seeland Donderdagaand en die feit dat Pakistan toe ook nie vir Australië in die wedstryd daarna kon klop nie. Australië speel in die ander halfeind teen Engeland.