Die Statebondspele begin oor 56 dae en Suid-Afrikaanse netbalondersteuners is in die duister oor wie in die binnebaan is vir dié sportskouspel.
Daar is druk op Netbal Suid-Afrika (NSA) om sy uitsoekgroep van 24 spelers bekend te maak en nie langer uit te stel nie. Die uitvoerende komitee moet 18 name goedkeur, wat aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) voorgelê moet word.
Uit die 24 – waarvan sewe Proteas oorsee speel – sal ’n groep van 18 aangewys word wat later vandeesmaand in Stellenbosch ’n oefenkamp sal hou en geslote oefenwedstryde teen Engeland en Malawi speel.