Die aktivis Max Mok sê betogings oor die veiligheid van die Chinese tennisster Peng Shuai sal by ander Grand Slam-toernooie voortgaan totdat ’n oplossing vir die kwessie gevind word.
Peng (36), ’n voormalige Franse Ope- en Wimbledon-kampioen in die dubbelspel, se welstand is ’n kwessie van internasionale kommer nadat sy oënskynlik in November vir Zhang Gaoli, voormalige adjunkpremier van China, op sosiale media van seksuele aanranding beskuldig het. Sy het kort daarna vir weke summier uit die openbare oog verdwyn.
Peng het verlede maand gesê dat sy nooit iemand van seksuele aanranding beskuldig het nie en dat haar plasing op sosiale media verkeerd verstaan is.