Nick Kyrgios kon selfs op ’n dag wat sy gedrag op die baan onberispelik was, nie die versoeking weerstaan om tong uit te steek vir outoriteit nie deur Wimbledon se streng wit kleredragkode te oortree.
Die 27-jarige Australiër het reeds twee boetes in die toernooi ontvang. Hy sal dalk weer moet opdok nadat hy in sy wedstryd in die vierde ronde teen Brandon Nakashima in rooi tennisskoene op die hoofbaan gestap het.
Kyrgios het die wedstryd in wit skoene gespeel, maar ná sy oorwinning in vyf stelle weer die rooies aangetrek en ook ’n rooi keps op sy kop gesit terwyl hy sy onderhoud op die baan gedoen het.