Sy het haar tweede Grand Slam-tennistitel Saterdag in die Franse Ope op Roland Garros as “harde werk” beskryf, ofskoon ’n mens Iga Swiatek se woorde in konteks moet beskou.
Haar oorwinning in Parys die naweek was allesbehalwe harde werk. Sy het haar 18-jarige teenstander, die jong Amerikaner Coco Gauff, in ’n katspoegie meer as ’n uur met 6-1, 6-3 van die baan gevee om haar sukses op dié kleibane te herhaal.
“Twee jaar gelede toe ek hier gewen het, was dit werklik ongelooflik. Soos ’n droom. Hierdie keer het dit gevoel of ek harder moes werk om die titel te verower,” het die 21-jarige Pool gesê nadat sy ’n tweede keer met die gesogte Suzanne Lenglen-trofee herenig is.