John McEnroe het hom uitgelaat oor die kwessie van Novak Djokovic se deportasie uit Australië en beskryf die sage as “totale ***” en “ ’n absolute grap”.
The Telegraph berig die uitgesproke voormalige Amerikaanse tennisster het in ’n voorskou vir die Australiese Ope op ESPN Djokovic lof toegeswaai dat hy “doen wat dit ook al verg” om ’n 21ste Grand Slam-titel te verower en vir sy “dapperheid” om oningeënt na Australië te reis.
McEnroe is egter tydens die regstreekse uitsending in die rede geval en op die lug gekorrigeer nadat hy sy twyfel uitgespreek het oor die feit dat Djokovic ’n fotosessie en onderhoud met die Franse publikasie L’Equipe gehad het terwyl hy eintlik in isolasie moes gaan.