Die omstrede Australiese tennisspeler Nick Kyrgios sal volgende maand in die hof in Canberra verskyn weens ’n aanklag van beweerde aanranding in ’n voorval verlede jaar.
’n Verklaring deur die Australian Capital Territory (ACT)-polisie het Kyrgios nie geïdentifiseer nie, maar The Canberra Times het die speler se prokureur aangehaal wat sê die aanklag hou verband met ’n “liefdesverhouding”.
“Die ACT-polisie kan bevestig dat ’n 27-jarige man van Watson op 2 Augustus in die ACT-streekshof moet verskyn in verband met ’n aanklag van aanranding ná ’n voorval in Desember 2021,” sê die polisie.