Ntambi Ravele, die tennis-administrateur wie se ongelukkigheid met die Saskok-ringkop Barry Hendricks tot sy skorsing gelei het, sê sy is heeltemal gemaklik daarmee dat haar eie optrede nou deur Tennis Suid-Afrika (TSA) ondersoek sal word.
TSA het Donderdag aangekondig dat Ravele en die TSA-president, Gavin Crookes, vrywillig op verlof gegaan het sodat ’n subkomitee kan bepaal of hulle hul fidusiêre verantwoordelikhede as raadslede van die organisasie nagekom het.
Crookes is in die spervuur omdat hy ná ’n gesprek met Hendricks aan die TSA-raad gesê het Hendricks ondersteun nie Ravele se benoeming vir die pos van Saskok-president nie. Ravele, wat daarna nie deur TSA benoem is nie, het by die minister van sport en Saskok daaroor gaan kla.