Wimbledon gaan die titels “mejuffrou” en “mevrou” voor die name van vrouewenners op sy ererol skrap om met die mansererol ooreen te stem in ’n poging om die toernooi te moderniseer.
Die All England Lawn Tennis Club (AELTC), die organiseerders van die toernooi, het volgens tradisie slegs vir vroue titels gebruik. Daar word na Ash Barty, verlede jaar se vrouekampioen, as “Mej. A. Barty” verwys, maar die manswenner, Novak Djokovic, verskyn as “N. Djokovic” op die ererol.
Die AELTC het in 2019 met beleefdheidsaanspreekvorme weggedoen wanneer die tellings in vrouewedstryde aangekondig word, maar daar word steeds na die kragmetings verwys as “gentlemen’s singles” en “ladies’ singles”.