Serena Williams sal haar langverwagte terugkeer tot die tennisbaan volgende week in die eerste ronde van die Wimbledon-grasbaantoernooi teen die Franse vrou Harmony Tan maak.
Die 23-malige Grand Slam-kampioen was ’n jaar langs die kantlyn nadat sy verlede jaar in die eerste ronde ’n beenbesering opgedoen het. Sy het intussen tot nr. 1 204 op die wêreldranglys teruggesak.
Die 40-jarige Amerikaner het in Vrydag se loting moeiliker teenstanders vrygespring. Tan beklee die 113de plek op die wêreldranglys.