Die Engelse span wat die Springbokke in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama gaan moet trotseer, toon ooreenkomste met die een wat in 2003 die Webb Ellis-trofee gelig het.
Só meen die voormalige Bok-kaptein Corné Krige, wat destyds die onbenydenswaardige taak gehad het om die Bokke in ’n donker tydperk in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis in ’n groepwedstryd teen die Rose aan te voer. Die Bokke het daardie kragmeting met 6-25 verloor.
Engeland is toe deur die legendariese slot Martin Johnson aangevoer en het ook met sterre soos Jonny Wilkinson (losskakel), Lawrence Dallaglio (agtsteman) en Phil Vickery (vaskopstut) in die fleur van hul loopbane gespog. Clive Woodward was die afrigter.