Die hoogs gediskrediteerde oud-spioenbaas Arthur Fraser en twee Gupta-broers, Atul en Rajesh, is die ANC se eie spoke wat die organisasie begin jaag het.
News24 berig Maandagaand – sekerlik die scoop van die jaar tot nou – dat twee van die berugte Gupta-broers agter tralies is. Dit kom net mooi 11 jaar nadat kommer oor hul invloed op die ANC en oudpres. Jacob Zuma uitgespreek is. Dít deur Fikile Mbalula in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC. Dit was nadat hy deur die Guptas na hul misdaadhoofkwartier in Saxonwold ontbied is om hom in te lig hy word sportminister.
Selfs Trevor Manuel was nog in daardie vergadering – dit is immers hy wat dit in 2017 onthul het. Maar die hele spul het destyds geswyg. Nou begin die spoke hulle jaag en daar is nie meer wegkomkans nie.