As iets duidelik is uit die benoemings vir die ANC-leierskap wat die week aangekondig is, is dit dat die ANC verander het, skryf Carien du Plessis.
Om die voormalige DA-leier Mmusi Maimane se 2016- verkiesingslagspreuk aan te haal: “i-ANC ayisafani.” Die ANC het verander. Dit is waar tot ’n sekere mate. Die ANC onder Cyril Ramaphosa is in verskeie opsigte anders as die party onder Jacob Zuma.
Neem byvoorbeeld die benoemingsproses vir die leiers wat in Desember by die ANC se nasionale konferensie verkies gaan word. Dis ’n nuwe proses, wat behartig word deur ’n sentrale verkiesingskomitee onder leiding van die voormalige president Kgalema Motlanthe.