Hy het al in die vorige eeu opgehou om na die SAUK se Afrikaanse radiodiens te luister, skryf Theunis Engelbrecht.
Ek vind die hewige debat oor RSG insiggewend, al het ek in die vorige eeu laas ordentlik na die stasie geluister. Ek is dus gelukkig nie in ’n posisie om uitsprake oor die huidige stand van sake by die stasie te maak nie, maar die debat het nogtans ’n paar interessante herinneringe opgeroep.
Dit was in die vroeë 1990’s dat ek opgehou het om na RSG se voorganger, Afrikaans Stereo, te luister en eerder na Radio 5 oorgeskakel het. In daardie stadium het ek al 15 jaar na die SAUK se Afrikaanse radiodiens geluister. Ek kan nie eens onthou wat was Afrikaans Stereo se voorganger se naam nie, maar drie stemme uit daardie vervloë jare sal ek nooit vergeet nie: Fanus Rautenbach, Daniel Kirstein en Nic Swanepoel.