Die kanse is baie goed dat Suid-Afrika ná die verbrokkeling van die DA ’n nuwe politieke party kan kry, maar politieke ontleders is skepties oor die sukses van só ’n party. Gert van der Westhuizen berig.
Die bedanking van die party se leier, Mmusi Maimane, en Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, uit die DA tesame met bespiegelings dat nog vooraanstaande swart leiers hulle kan volg, dui volgens politieke ontleders daarop dat ’n nuwe party deur ontnugterde oud-DA-lede beslis ’n moontlikheid is.
Daar is tussen die ANC en die DA plek op die politieke spektrum vir ’n nuwe party met ’n sosiaal-demokratiese beleidsrigting, sê Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die sakeskool van die Noordwes-Universiteit.