Al langer as ’n dekade al woed ’n guerrillaoorlog oor ’n groot deel van Wes-Afrika. Swart Afrikane, Europeërs en rebellemagte veg sy aan sy en teen mekaar. Die oorlog strek al hoe wyer en daar is verskeie waarskuwings vir ons aan die suidelike punt van dié plofbare kontinent, skryf Al Venter.
Dinge gebeur soms vinnig in Afrika. So drie of vier jaar terug publiseer ek die boek Al-Qaeda in the Islamic Maghreb: Shadow of Terror over The Sahel, in Brittanje. In een van die eerste hoofstukke verklaar ek dat die Frans-geleide teenopstand-operasie die djihads op die vlug laat slaan het.
Dis nie meer so nie: Al-Kaïda het nou die oorhand. Meer nog, die oorlog in Mali het verskerp, tot so ’n mate dat die rebelle wat in dié dorre streek aktief is nou na willekeur kan aanval.