Op Vrydag 3 Junie is dit CrazySocks4Docs-dag en jou geleentheid om te wys jy gee om vir diegene wat vir ons omgee. Hoe? Wel, trek net jou vrolikste – of onpaar – sokkies aan, skryf Lizette Rabe.
“Ons is opgelei om na ons pasiënte om te sien, maar ons moet ook na ons kollegas omsien, en bowenal moet ons na onsself omsien.” Dit is die boodskap van Geoff Toogood, Australiese kardioloog en stigter van die CrazySocks4Docs (CS4D)-veldtog aan sy mede-gesondheidswerkers in Suid-Afrika.
In twee kort videoboodskappe beklemtoon Toogood, direk ná ’n swem – hy is ’n ywerige oopwaterswemmer – die feit dat die stigma rondom die psigiese gesondheidsbehoeftes van gesondheidswerkers eers verminder moet word voordat hulle hul eie broosheid kan erken.