Dis weer die tyd van die jaar wat ouers in skoolsale sit. Die afgelope week was een skoolhoof se openingswoorde: “Ouers, ons dogters se angsvlakke is besonder hoog.” Daarna het ons gehoor van die klas van 2021 se prestasies en die statistieke is op die skerm vertoon. Verder is ons meegedeel dat elke kwartaal in die loop van die jaar wat voorlê geleidelik moeiliker en veeleisender gaan word. Terselfdertyd is gesê dat die leerlinge se geestesgesondheid prioriteit is.
Kyk, leerkragte doen werklik moeite om sukses en geestesgesondheid te balanseer. Ouers sien en beleef dit. Met die oog op die welsyn van ons kinders word daar daarom dikwels bygevoeg: “Meisies, doen nét julle bes.” Nie “doen julle bes nie”, maar “nét” julle bes. Tog is die top-leerlinge in dieselfde asem ook pas aangeprys, daar is gesê hoe moeilik dit is om vir heelparty naskoolse kursusse in te kom en die meisies is aangemoedig om sommer uit die staanspoor ekstra wiskunde te neem.
“Nét . . . my bes”? Dit klink binne die konteks van die saalbyeenkoms na ’n raps meer as “nét”. Dit klink miskien ook vir die meisies na “júlle bes” en nie noodwendig “mý bes” nie.