Het die DA rede om positief te voel oor Oktober se munisipale verkiesing, wonder Wayne Sussman.
Suid-Afrika se munisipale verkiesing is ons ekwivalent van die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Dit is die belangrikste verkiesing tussen die nasionale en provinsiale verkiesing en ’n geleentheid vir kiesers om die regerende party te waarsku om hul sokkies op te trek.
’n Goeie voorbeeld hiervan was die manier waarop kiesers die ANC in 2016 se “middeltermyn”- munisipale verkiesing gestraf het toe hul steun van 61% tot 54% gedaal het. Toe het die DA 27% van die stemme landswyd verower – ’n belangrike deurbraak vir ’n party wie se voorganger, die DP, in 1994 met minder as 2% van die stemme tevrede moes wees.