Volstruiseierkrale wat kenners in Lesotho gevind het, het hulle laat besef dit was sosiale boodskappe wat jagterversamelaars derduisende jare gelede oor honderde kilometer heen aan mekaar gestuur het, skryf Elsabé Brits.
’n Polletjie gras groei sowat 33 000 jaar gelede in ’n skalie-agtige gebied. ’n Volstruis pik aan die gras. Atome van die skalie is opgeneem in die gras en grond, en word deel van die eierdop wat sy uiteindelik lê.
Een van die San-mans kom tydens ’n jagtog op die eiers af. Hy lê heerlik weg daaraan, maar hy breek ook die eierdop in ’n klomp stukke met sy klipgereedskap. Wanneer daar tyd is maak hy en die ander mense in sy groep, waar hulle in Karoo bly, krale van die doppe, deur klein gaatjies daarin te boor. Hulle ryg dit aan senings.