Die debat oor grond en onteiening sonder vergoeding is nog lank nie verby nie, skryf Elmien du Plessis.
Die afgelope Dinsdag was ’n bittersoet oomblik vir almal wat die laaste paar jaar betrokke was in pogings om die ANC en EFF se planne te stuit om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Ná vier jaar se moeilike gesprekke – waarin selfs mense wat aan dieselfde kant van die draad was soms mekaar aan die keel beetgekry het – was daar dalk die verwagtinge dat die finale oomblik waarop die grondwetwysiging verwerp is, met groter fanfare sou gepaardgaan.