Paul Roux is omstreeks 1665 in Orange naby Avignon in Suidoos-Frankryk gebore. 20 jaar later is die dorpie se vorstelike paleis in opdrag van die sonkoning Lodewyk XIV tot op die grond afgebreek en alle plaaslike Protestante uitgedryf of vermoor.
Eerder as om hom tot die Rooms-Katolisisme te bekeer of hom tot lydsaamheid oor te gee, besluit Roux om uit sy land pad te gee. Dít is geen geringe taak nie, want om die bloedlustiges te ontwyk moet hy en sy metgeselle meestal in die donker vlug.
Eers ná drie jaar, op Saterdag 20 Maart 1688, kan hy aan boord van ’n skip in Nederland klim om sy reis na vryheid voort te sit. Wat sou die Calvinis Paul Roux dink toe hy vier en ’n half maande later by Kaap die Goeie Hoop aan wal stap en ’n klein nedersetting aantref wat maar uit ’n paar honderd inwoners bestaan? As hy sy oë opslaan na die uitstrekkende, massiewe Tafelberg en Markus 13:14 hier ter sprake vind – dat dié wat die gruwel van die verwoesting sien na die berge moet vlug – sal hy éérs so dink by die aangesig van die veel meer majestueuse bergstapels wat die Bergriviervallei omsoom.