Die hoë pryse van kosprodukte soos gemmer en avokado’s is ’n goeie dryfveer vir georganiseerde misdaad, het Carla Lewis uitgevind.
In die supermark laai ek die houertjie klein Hass-avokado’s in my mandjie. Die R59,99 wat ek moet opdok vir die twee avo’s wat ek in een hand kan vashou, laat my op my tande kners. Maar as ’n mens aandring op luukshede soos avokado op rogbrood, moet jy seker maar jou sak skud vir die voorstedelike plesiertjie.
Vars gemmer – een van die bestanddele van ’n groen konkoksie wat ek daagliks sluk om my immuunstelsel ’n hupstoot te gee – laat die skaal kreun op amper R250/kg.