’n Vriend van my doen onlangs aansoek vir ’n pos by een van Amerika se top-tegnologiefirmas. Voor hy uiteindelik die pos aangebied is, is hy deur ses rondes van onderhoude waarvan die laaste onderhoud ses uur duur. Nog ’n vriend doen aansoek by ’n Skotse beleggingsfirma. Ook hy is deur etlike rondes toetse en onderhoude waarvan die laaste een die topbestuur insluit.
In teenstelling hiermee word aanstellings by die meeste Suid-Afrikaanse universiteite gemaak op grond van ’n CV en een halfuur-onderhoud. Dieselfde geld vir ander staatsinstellings.
Die kontras is skreiend. Eerstens, ’n pos by die universiteit is basies lewenslank. Die koste van ’n “verkeerde” besluit is dus enorm omdat dit byna onmoontlik is om ’n onproduktiewe werknemer – een wat swak klasgee of nie navorsing doen nie – te vervang. Ten spyte hiervan belê universiteite en ander staatsinstellings selde in talentwerwing: Solank daar ’n geskikte kandidaat is wat aan die minimum vereistes voldoen, is die Kaap Hollands.