Hou op politiek speel en bou meer skole, sê Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Skoolbeheerliggame.
Skole in die weste van Johannesburg moet plek maak vir tot 300 meer aansoekers in 2023. Die beheerliggame is uitgesluit in dié besluit. Gaan julle teen die departement optree? Indien die beheerliggame in die toelatingsproses geïgnoreer word, wel. Tans boelie hulle net die skoolhoofde. Indien die skoolbeleid oorskry word, en die beheerliggame nie betrek word nie, sal ons hof toe gaan. Maar dis die laaste uitweg.
Gebruik beheerliggame toelatingskriteria om kinders uit skole te hou? Ja en nee. As ’n skool 500 aansoeke kry en net 150 oop plekke het, diskrimineer die skool wel op ’n manier teen 350 kinders. Die Grondwet is nie teen diskriminasie nie, maar onbillike diskriminasie. As ’n ouer voel daar is onbillik teenoor sy kind gediskrimineer, kan die ouer appèl aanteken by die LUR.