Wat gaan ná die algemene verkiesing in 2024 gebeur – veral as die ANC se steun tot 40% val? Die onstabiele aard van ’n koalisie sal ’n andersoortige politieke dinamika in die land laat ontstaan, skryf Pieter Labuschagne.
Die algemene verwagting is dat die ANC sy meerderheid in 2024 se algemene verkiesing sal verloor. Die verslegtende sosio-ekonomiese situasie in Suid-Afrika, ná dekades van wanbestuur, het grootliks tot dié verlies aan steun bygedra.
Die beëindiging van magsoorheersing deur ’n enkele party in ’n de facto-eenpartystaat sal demokratisering in die land verdiep. Die gepaardgaande magsverskuiwing en die herposisionering van politieke partye kan egter tot politieke onstabiliteit en selfs wanorde lei.