Dis vandag presies ’n jaar nadat ondersteuners van Donald Trump die Amerikaanse kongresgebou in Washington bestorm het. En die aanslag op demokrasie duur voort.
Die ergste aanval op die federale regering sedert die oorlog in 1812. Dít is wat hom op Woensdag 6 Januarie 2021 in Washington afgespeel het toe ondersteuners van Donald Trump die kongresgebou bestorm het om die proses te keer waarin die verkiesingsuitslag (dat Trump verslaan is) bekragtig word.
Vier mense is dood, sowat 140 polisiebeamptes is beseer en sedertien het vier polisiebeamptes wat die dag beleef het, hul eie lewe geneem.