Wat is die moontlikheid dat die oorlog in Oekraïne tot ’n kernoorlog kan lei? Die vraag is hoe die Russiese president, Wladimir Poetin, op sy vernedering gaan reageer, skryf Leopold Scholtz.
Die wêreld is in die era van die Koue Oorlog oorheers deur ’n pikdonker wolk wat op Engels genoem is “Mutual Assured Destruction” – met die gepaste afkorting MAD. Sedert die Russiese inval in Oekraïne, word in Westerse media en inligtingsdienste opnuut aandag aan die herlewing van dié begrip gegee.
Die skrikwekkende plofkrag van kernwapens is vir die eerste keer in 1945 bewys toe Amerika twee Japanse stede, Hirosjima en Nagasaki, tot puinhope gereduseer het. Vier jaar later het die destydse Sowjetunie sý eerste kernbom in ’n toets laat ontplof.