In die klein kamertjie agter die verhoog van die groot Kopanong-Kovsiekerk praat die “broers” van Spoegwolf oor lief, leed en lirieke terwyl ’n bottel perskemampoer soos ’n nagmaalritueel in die rondte gestuur word.
Die vertoning wat Donderdagaand as deel van die Vrystaat Kunstefees in die Kopanong-Kovsiekerk plaasgevind het, is verby en hul wolfie-ondersteuners se toejuiging hang nog voelbaar in die lug.
Ineengevleg in Spoegwolf is Danie (hoofsanger en kitaar), Albert van der Merwe (baskitaar, sanger en “rapper”), Chris von Wielligh (klavier en kitaar) en Moskou du Toit (tromme, stem en braai).