Daar was geen raadpleging of vooraf gesprekke in die Nasionale Party (NP) oor die destydse pres. PW Botha se aankondiging dat “gesonde magsdeling” die nuwe beleid van die party is nie.
Volgens die oudpolitikus dr. Koos van der Merwe het dit soos ’n bom getref toe Botha die aankondiging op die NP-koukusvergadering van 24 Februarie 1982 gedoen het.
Van der Merwe was een van 18 parlementslede wat destyds uit die koukus gestap en weggebreek het om die Konserwatiewe Party (KP) te stig. Hy het op 17 Oktober vanjaar by die Voortrekkermonument deelgeneem aan ’n gesprek oor die skeuring.