Jean Raspail het in 1973 sy mees omstrede boek in ’n villa by die Middellandse See geskryf. Oorkant die see was die kus van Algerië, wat lank Franse grondgebied was.
Raspail was bekend met die werke van sy tydgenoot Frantz Fanon. Volgens Fanon moes die Franse kolonialiste met geweld deur die Algerynse gekoloniseerdes vervang word, wat ná ’n bloedige insurgensiestryd in 1962 ook gebeur het.
Raspail se boek, Die leërkamp van die heiliges, het ’n teenpool tot Fanon gevorm. Dit handel oor ’n vreedsame inval en kolonisasie van die Weste deur nie-Westerlinge. Eers wou Raspail sy karakters Noord-Afrikane maak, maar hy het probeer om die, volgens hom kunsmatige, Franse debatte oor rassisme en anti-rassisme te systap.