Die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid het van onder af boontoe ontwikkel, skryf Leslie van Rooi.
Die raad van die Universiteit Stellenbosch het voorverlede week dié instelling se nuwe taalbeleid goedgekeur. Meertaligheid in die konteks van ons land is ingewikkeld. Jy moet daarmee worstel, maar dit is wat ’n diverse land soos Suid-Afrika van sy mense vra. En dit is ’n kerndeel van die rol wat ’n universiteit hier behoort te speel.
My kantoor op die Stellenbosch-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) kyk uit oor ’n gedeelte van die bekende Rooiplein. Ek verluister my soms aan die veelvoud van stemme en aksente van die studente wat voor my venster verbystap klas toe – mense uit verskillende agtergronde en taalgemeenskappe wat hier is om saam te leer, maar ook saam te leef.