In die straatname van Amsterdam kan ’n mens die noue band tussen dié stad en sy voormalige kolonie aan die suidpunt van Afrika sien. Jaco Grobbelaar het 50 strate in Amsterdam besoek met name wat jy op enige plattelandse dorp in Suid-Afrika sal aantref.
Amsterdam is ’n groot stad met ’n bevolking van byna 2,5 miljoen mense in die groter metropoolgebied. Ek het meer as 4 000 straatname in dié stad deurgelees op soek na straatname met ’n Suid-Afrikaanse konneksie of karakter. My kortlys het aanvanklik 58 straatname gehad, wat ek na ’n netjiese 50 verminder het.
Van die straatname wat ek geskrap het (Rosendaal-, Veldhuizen- Manenburg- en Saffierstraat) klínk wel Suid-Afrikaans, maar het nie ’n sterk teenwoordigheid in die Republiek nie. Ek het agterna ook Hendrik de Bruyn-, Hugo de Vries-, Jacques Oppenheim- en Pieter Pauwstraat verwyder. Dit lyk dalk bekend, maar kom nie in Suid-Afrika voor nie.