Teen die agtergrond van die viering op 10 Desember van die 25ste bestaansjaar van die Grondwet, rig die Afrikaanse Taalraad (ATR) hierdie ope brief (en uitnodiging) aan pres. Cyril Ramaphosa.
Agbare pres. Cyril Ramaphosa,
As ’n verteenwoordigende, grondwetlike liggaam van die Afrikaanssprekende gemeenskap wat Afrikaans in sy volle diversiteit bevorder (insluitend die Afrikaans van die Kaapse Skiereiland, die Weskus, Namakwaland, Gauteng, gemeenskappe soos die Griekwa, ensovoorts), neem die ATR met waardering kennis van u positiewe uitsprake oor Afrikaans asook oor die Khoi- en San-tale. Dit het mense hoop oor insluiting en erkenning gegee.