Liz Truss (47) is geen onbekende op die internasionale politieke toneel nie. Sy was minister van internasionale handel en minister van buitelandse sake onder die vorige premier, Boris Johnson – en as sodanig het sy nogal taamlik ervaring opgedoen.
Soos maar by talle politici die geval is, was sy in staat om haar standpunte vinnig aan te pas om haar ambisies te dien. Sy het Brexit – Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) – aanvanklik as ’n “drievoudige tragedie” bestempel, maar toe dit duidelik word sy is in die leierskap van die regerende Konserwatiewe Party deel van die minderheid, het sy sonder sigbare gewetenswroeging na die Brexit-kamp oorgestap.