Swaar donderweer soos selde tevore het die laaste dae oor die internasionale politieke toneel gedawer na aanleiding van ’n veiligheidsooreenkoms tussen Amerika, Brittanje en Australië wat Frankryk swaar beledig het. Die vraag is wat die oplaaiende rusie vir die samehang van die breë Westerse bondgenootskap, en veral vir Navo, gaan beteken. Leopold Scholtz berig.
“Verraad.” “Leuens.” “Opportunisme.” “Mes in die rug.”
Woorde soos dié het verlede week uit die mond van die Franse minister van buitelandse sake, Jean-Yves le Drian, gerol om sy land se diepe verontwaardiging aan te dui oor wat beskou word as troueloosheid van lande wat veronderstel is om Frankryk se troue bondgenote te wees.