In die openbare gesprek in Suid-Afrika gaan dit dikwels oor allerlei begrippe wat dan vir sommige mense soos ’n rooi lap voor ’n woedende bul werk. Dikwels word die begrippe egter nie korrek verstaan nie. Leopold Scholtz probeer orde in ’n konseptuele chaos skep.
In ’n onlangse artikel het ’n akademikus kritiek uitgespreek op wat genoem is “linkse liberalisme” wat dan nie die enigste denkraamwerk is waaronder menseregte bevorder kan word nie. In die digitale ruimte vir kommentaar onderaan die artikel is die mening toegejuig.
Op ’n manier is dit te begrype. Ook ek het in die 1960’s my politieke verstand gekry met die idee dat die liberalisme ’n linkse ideologie – en dus verwerplik – is.