Te midde van die opgewondenheid oor die vastrekkery van twee Gupta-broers in Dubai, is dit wenslik vir perspektief en raakpunte om te besin oor die geregtelike aanloop daartoe.
Eerstens, al is die Guptas, saam met Jacob Zuma, die gesig van staatskaping, moet onthou word dat as hulle uitgelewer word, hulle nie hier in die hof op ’n breë aanklag van “staatskaping” in ’n saak genaamd Die Staat versus die Guptas vir alles van Eskom tot Prasa tereg gaan staan nie. Vir aandadigheid by elk van dié strooptogte sou hulle afsonderlik aangekla moet word.
Tweedens moet daarop gelet word dat dié twee Gupta-broers sedert verlede jaar al telkens in die hof in Bloemfontein moes verskyn het. Atul en Rajesh is beskuldigdes 13 en 14, hul vroue, Chetali en Arti, beskuldigdes 15 en 16 en hul maatskappy Islandsite Investments beskuldigde 17 in die staat se saak teen onder meer hulle, oudamptenare van die Vrystaatse landboudepartement en teen Nulane Investments en laasgenoemde se eienaar, Iqbal Sharma.