Hier is ’n paar opmerkings oor wat my opgeval het in Die Burgervan 27 Augustus:
Johann Nel oor die Bainskloof-pas: Ek stem 100% saam met jou oor die morsjorse. Ek sal hulle graag op heterdaad wil betrap en hulle so ’n bietjie aanmoedig met ’n swartsambok om hul gemors op te tel. Dis ’n pragtige pas. Ry gerus rustig daardeur met ’n fles koffie of tee, hou stil by ’n veilige aftrekplek en bewonder Andrew Geddes Bain se handewerk en die pragtige natuur.
Dana Snyman oor die puberteit en selfone: Dana, jy laat ons almal ver terugstap langs die pad van ons eie herinneringe. Daar is ’n verhaaltjie van ’n dominee se vrou wat uit die dak gehang het in die kerk gedurende ’n diens (sy moes die dominee help om sy preek trefkrag te gee) en haar rok het skynbaar ’n bietjie onvanpas opgeskuif. Sê die dominee toe: “Dié wat opkyk, sal met blindheid geslaan word.” ’n Ouer broer druk sy een oog met sy hand toe en sê: “Ek is bereid om my een oog op te gee.” Ek dink baie van ons sal maar so stilletjies ook dalk geloer het op ons selfoon, al was dit dan net met een oog!