Lente ná elke winter is ’n wonderwerk.Vanjaar begin dit skouspelagtig mooi. Die Bosveld word wakker met bome wat mooier as gewoonlik blom. Onthou, die najaar het goeie reën gehad en die aarde is diep binne nog nat.
Die bome maak beurte om te blom. Elkeen ervaar sy glorietyd. Eers is dit die wildepeer of bosveldbruid, dan die swarthaak en dan volg die ander een vir een. Die sambokpeul en dopperkiaat kan kwalik wag om uitbundig geel te blom. Die Skepper het alles so volmaak gemaak.
Maar die vraag, my vriend, is hoeveel daarvan gaan jy in verwondering ervaar en gaan die wildekatjiepiering ook vir jou blom?