Ons hoor deesdae gereeld oor RSG dat dit die regte ding is om jou belasting aan die munisipaliteit te betaal en word aangemoedig om dit tog getrou te betaal. Klaarblyklik is dit ’n advertensie van die owerhede. Ek sou, soos deesdae die mode is, kon aanstoot neem, maar, synde ’n oue van dae, laat ek dit maar soos water van die eend se rug afloop.
Nogtans, my pa het vandat hy sy eerste huis in Boston gekoop het, getrou elke belasting en heffing aan die munisipaliteit betaal. So het ek ook gedoen toe ek in Parow ’n eenvoudige huis gekoop het. En doen ek dit nou nog ten opsigte van die huis waarin ek tans woon. Jy sou kon dink dat belastingbetaal ’n familiekwaal is wat van geslag tot geslag oorgedra is, want my kinders doen dit ook!
Maar die owerhede, teenoor wie ons so getrou ons kant gebring het en nog bring, het lelik agtergeraak in die bring van hul kant. So moet ek deesdae maandeliks ’n aansienlike som geld opdok aan veiligheid in die vorm van drade en ligte en sensors wat in stand gehou moet word, plus ’n verdere aftrekking wat by my eiendomsbelasting gevoeg is om ’n stadsverbeteringsoefening te finansier.