’n Vraag wat deesdae al hoe meer by my spook, is of ons nog ’n samelewing van hoop is. Ek wil met my hele wese glo dit is steeds die geval, maar moet erken dat my moed my soms in die steek laat. So, byvoorbeeld, het ernstige oortredings en misdade soos moord, bedrog en korrupsie so algemeen geword dat dit glad nie meer vir ons vreemd is nie.
Is ons dermate afgestomp dat slegs die buitengewone, aardskuddende gebeure en oortredings nog ons aandag trek? Is ek te pessimisties, of is ’n samelewing sonder hoop ons voorland?
Ek moet erken daar heers ’n gees van moedeloosheid hier in die omgewing waar ek my bevind. Ek dink wel as volk het ons nog hoop danksy ’n aktiewe, dinamiese waardestelsel.